top of page

Afrikaans: Van koloniale Koine tot lingua franca

  • Paul Bester
  • Nov 16, 2025
  • 3 min read
Bron: wix.com
Bron: wix.com

Afrikaans is uniek. Die taal het nie ’n enkele oorsprong nie, dit is eerder ’n mengelmoes van verskeie tale. In 1652 het die Nederlandse kolonialiste begin handel dryf met die inheemse Khoi-bevolking. Hieruit het ’n eenvoudige Koine (’n gemeenskaplike taal wat deur verskeie volke gedeel word) ontstaan wat dien as die grondslag vir moderne Afrikaans. Baie van hierdie Khoekhoegowab-woorde , byvoorbeeld “kierie” en “gogga”,  het vesting gevind in die vroeë Afrikaanse woordeskat. Sowel as verskeie grammatiese reëls, soos dubbele ontkenning.


In 1658 het die VOC die eerste groot groep slawe ingevoer vanaf die Maleise Argipel. Hulle integreer hulle huistale in die Nederlandse Koine in wat aan hulle geleer is, om ’n “kombuistaal” te vorm.


Dié weergawe van Nederlands is gekenmerk deur die verslapping  van grammatiese reëls, ’n voorbeeld hiervan is hoe die koppelwerkwoord “is” wat konstant bly ongeag van die voorwerp van die sin, maar in Nederlands verander dit na “ben”, ”bent” of “zijn”. Dit word ook uitgeken deur die gebruik van leenwoorde. Voorbeelde van sulke leenwoorde wat vandag nog gebruik word is “baie” wat kom van die woord “banyak” en “baadjie” wat kom van “baju”.


In 1815 begin Kaapse Nederlands, wat Maleis vervang in die onderwysstelsels van madrasahs (Islam-skole vir vrygebore slawe). Sodoende is ’n voorgeslag van Afrikaans vir die eerste keer neergeskryf deur Moslem-leraars en Islamitiese geleerdes.

Gelyktydig het die verhoogde handel wat vanaf die Kaap plaasgevind het, hierdie Kaapse Nederlands afgedwing om ’n lingua franca (’n gemeenskaplike taal tussen mense wie se moedertaal verskil) te word. In hierdie tydperk begin Nederlandse geleerdes die taal “Afrikaans” noem wat “van Afrika” beteken. Dié term het egter net verwys na ’n streekstaal van Nederlands en sou eers later aanvaar word in akademiese literatuur.


Elke handelaar wat ’n nuwe taal praat, los leenwoorde in Afrikaans of voeg nuwe morfologiese reëls by die taal. Hierdie is die tydperk waarin Franse en Portugese leenwoorde veral bygevoeg word. Rondom 1850 begin Afrikaans saam met Nederlands in koerante verskyn en in 1875 word die Genootskap vir Regte Afrikaners gestig met die doel om Afrikaans as geskrewe taal te bevorder.


Uiteindelik op 8 Mei 1925 is Afrikaans erken as ’n taal afsonderlik van Nederlands en vervang Nederlands as amptelike taal saam met Engels wat sedert 1910 al ’n amptelike taal in die Unie van Suid-Afrika is. In 1929 is die Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) gestig om Afrikaanse kultuur te bevorder en ’n jaar daarna in 1930 is die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging(ATKV) gestig om Afrikaans deur kuns en gemeenskapsprojekte te bevorder.


Tydens die Tweede Wêreldoorlog het ’n tendens gevorm waarin Afrikaans woorde vanuit Engels leen om nuwe konsepte te beskryf. Hieruit ontstaan woorde soos “radio” en “uniform” wat direk uit Engels geleen is. Streektale begin ontstaan wat Afrikaans meng met Engels of ander morfologiese reëls toepas. In 2008 word die Afrikaanse Taalraad (ATR) gevorm met die doel om gelyke erkenning te gee aan Afrikaans se verskeie streektale.


Tans is Afrikaans die derde grootste taal in Suid-Afrika met sewe miljoen sprekers, wat hoofsaaklik in die Kaap is.


Bronne:

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page