top of page

Klanke van kognisie: Hoe musiek breinkognisie bevorder

  • Daniël Basson
  • Apr 18, 2025
  • 2 min read
Verskeie studies het al bevind dat gereelde musikale aktiwiteit – veral klavier speel of sing – met vinniger breinverwerking en uitvoerende funksionering geassosieer word.
Verskeie studies het al bevind dat gereelde musikale aktiwiteit – veral klavier speel of sing – met vinniger breinverwerking en uitvoerende funksionering geassosieer word.

Oor eeue heen is musiek meer as net ʼn klankbaan vir ons lewens as mense – dit is ʼn kognitiewe katalisator. Of dit nou passief gehoor of aktief bespeel word, betrek musiek ʼn ingewikkelde netwerk van sensoriese en emosionele stelsels om geheue, aandag, neuroplastisiteit en funksionele breinaktiwiteit te bevorder. Neuro-wetenskaplike studies dui toenemend op die vermoë van musiek om domeinspesifieke en domeinalgemene kognisie te beïnvloed.


Wanneer daar passief na musiek geluister word, selfs sonder aktiewe deelname, oefen dit diep kognitiewe effekte uit. Stefan Koelsch, ‘n neurowetenskaplike, se neuro-beeldingstudie, Investigating Emotion With Music: An fMRI Study, dui daarop dat musiek ouditiewe, limbiese en prefrontale kortekse aktiveer, wat emosionele regulering en aandagbestuur moontlik maak.


Boonop stimuleer emosioneel boeiende musiek die dopamienstelsel, wat stres en angs verminder. Christopher Newman, ʼn pediatriese neuroloog, het in ʼn onlangse pediatriese neurorehabilitasiestudie bevind dat sommige musiekstukke angs met so veel as 65% verminder.


Musiek dien ook as ʼn kragtige middel vir geheue-herroeping. Bekende melodieë stimuleer outobiografiese geheue, wat die hippokampus en mediale prefrontale korteks aktiveer – streke wat tipies deur neurodegeneratiewe afwykings geaffekteer word.

Petr Janata, ‘n kognitiewe neurowetenskaplike, se studie – The neural architect-ture of music-evoked autobiographical memories – het bevind dat hierdie verskynsel, wat selfs by Alzheimer-pasiënte waargeneem word – die terapeutiese potensiaal van musiek in geheuebevordering beklemtoon.


Yei Zhang, ʼn kognitiewe berekeningsneurowetenskaplike, se 2025-studie het bevind dat om musiek te luister ook verantwoordelik is vir die verbetering van die buigsaamheid van die hele breinnetwerk is, ʼn belangrike aanduiding van kognitiewe aanpasbaarheid.

Verder veroorsaak die leer van ʼn musiekinstrument permanente strukturele en funksionele breinveranderinge. Musikante toon ʼn verhoogde grysstof en groter witstof-koherensie in ouditiewe, motoriese en uitvoerende breinareas, soos gevind in neuroloog Christian Gaser se studie: Brain structures differ between musicians and non-musicians. Hierdie veranderinge word met verhoogde geheue, inhibisie en kognitiewe buigsaamheid geassosieer. Verskeie studies het al bevind dat gereelde musikale aktiwiteit – veral klavier speel of sing – met vinniger breinverwerking en uitvoerende funksionering geassosieer word.


Annalise D’Souza, ʼn sielkundige, het in ʼn studie oor musikale kundigheid en tweetaligheid bevind dat musiekuitvoering ook sensoriese motoriese vaardighede en taalgroei moontlik maak. Dié uitvoering vereis ook gekoördineerde ouditief-motoriese interaksie, wat kruismodale-integrasie en kognisie verder bevorder.

Behalwe vir spesifieke aktiwiteite, is musiek ʼn stelselwye neurokognitiewe stimulus. Dit bevorder neuroplastisiteit deur neurotrofiene, gamma- en beta-ossilasie-meesleuring op te stoot en grootskaalse breinkonnektiwiteit te versterk.


Musiek is nie net mooi nie, maar ook neurofunksioneel – ʼn algemene kognitiewe instrument wat breinfunksie en -struktuur oor ʼn mens se leeftyd struktureer en verbeter. Deur te luister, te speel of vir terapeutiese toepassing te gebruik, word die doeltreffendheid van musiek nou beklemtoon. Musiek se rol in kognitiewe gesondheid kan ʼn toenemende rol in opvoeding, veroudering en – uiteindelik – breinkognisie speel.


 
 
 

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page