Huldeblyk: Juf. Carol se nalatenskap leef voort
- Redaksie
- Mar 3, 2025
- 1 min read

Carol Kriel het geen kind, kollega of mens onveranderd van haar weggestuur nie. As sy boonop ‘n leesboek in jou hand kon druk, was sy diep gelukkig. Haar verwondering oor Afrikaans en veral die letterkunde (wat sy “lekkerkunde” genoem het) het helder deur haar wakker oë gestraal en haar gespreksgenoot begeester. Beelde van haar in haar Bibliozone waar sy stories vertel, gedigte in haar potloodskriffie analiseer, klasgee, boeke uitsnuffel, oplei, lei, modereer, proeflees, voorlees, beraad, inspireer, help en nogmaals help, is in ons ingeëts. Want tyd het sy altyd vir mense en lees gemaak. Met haar werksbeiteltjie het sy ‘n barshou gekap. Sy sou egter nooit spog oor wat sy alles ráák kap nie. Daarvoor was sy te nederig, aards en suiwer in haar insig oor wat dit is om te lééf – en te laat leef.
Sy het haar studente as “Geliefdes” aangespreek… Juffrou, Kollega, Tannie, sommer net Carol - en in die besonder Geliefde Carol, Helpmekaar-harte is seer; swaar van die ryk aan jou nalatenskap.
en op dié dag sien ons die nag
daar anderkant gaan oop
met ʼn bars wat van haar beitel af
dwarsdeur die sterre loop.
𝓛𝓲𝔃𝓮𝓽 𝓚𝓸𝓻𝓫



Comments