Afrikaans oor 'n eeu: Verandering of volharding?
- Elzette Labuschagne
- May 26
- 3 min read

Afrikaans het oor die afgelope 100 jaar aansienlik ontwikkel – van ‘n kombuistaal tot ‘n geskrewe en erkende akademiese taal, maar hoe gaan dit in die volgende 100 jaar verander? Gaan tegnologie, globalisering en jonger generasies die taal drasties aanpas? Gaan die taal mettertyd verryk en ontwikkel, of begin agteruitgaan en sy rykdom verloor? Elzette Labuschagne gesels met Me. Linda Peacock, Afrikaansvakhoof, hieroor.
Invloede op Afrikaans se toekoms
Ons almal het al die woorde "ChatGPT, ‘translate’ hierdie sin in goeie Afrikaanse woorde" getik. Me. Linda Peacock, Afrikaansvakhoof en -onderwyser, sê: “Tieners lees minder omdat almal gefokus is op kitskommunikasie en skermlees. Daar is heelwat meer Mengels en informele Afrikaans het ook nou sy plekkie bevestig." Sosiale media en die gebruik van informele SMS-taal benadeel voortdurend die jeug se spelvermoë en taalgebruik. Kinders se vermoë om subtiele verskille tussen woorde soos ‘lei’, ‘lui’ en ‘ly’ raak te sien, word ondermyn deur nalatige taalgebruik. Indien hierdie tendens voortduur, loop Afrikaans die gevaar om sy rykdom te verloor. Tog bied moderne tegnologie, soos KI-hulpmiddels, ‘n kans om die taal te versterk en vir toekomstige geslagte te bewaar.
Afrikaans as ‘n akademiese en kultuurtaal
Nog ʼn belangrike vraag om oor te dink is of skole en universiteite Afrikaans oor 100 jaar steeds as onderrigtaal sal hê? "Beslis. Ons het ‘n jong taal, wat onder die top drie van die voorkeur praattale in Suid-Afrika lê. Nuwe Afrikaanse universiteite word gevestig en vir die Afrikaanssprekende is moedertaalonderrig op primêre en sekondêre vlak noodsaaklik," sê me. Linda. Moedertaalonderhoud is baie belangrik, want dit vorm die hartklop van ons identiteit en kultuur.
Selfs skrywers wat al lank oorsee woon, bly diep gewortel in Afrikaans. Digkuns ontwikkel en moderniseer voortdurend om by die hedendaagse wêreld aan te pas, soos met Koos Kombuis se e-digbundel Rock & Roll.karoo. Groot meesters soos Breyten Breytenbach en A.G Visser bly egter steeds relevant. Die werk van hierdie ikoniese digters, vorm die fondasie van letterkunde in die akademiese ruimte en sal altyd ‘n plek in die klaskamer hê. Hul meesterlike taalgebruik weerspieël nie net die ryke gebruik van Afrikaans nie, maar sal ook Afrikaans vir altyd op ‘n hoë standaard bewaar.
Taalverskuiwing en nuwe generasies
‘Jeugdeug’, ‘flaterwater’ en ‘lugbraaier’ – alles lekker nuutskeppings, wat toon dat ons steeds die kreatiewe taalvermoë het om Afrikaans te ontwikkel en verbeter. Jongmense herdefinieer Afrikaans deur dit op ‘n informele manier te gebruik, wat die taal meer dinamies en toepaslik vir haar tyd maak. Nuwe Afrikaanse woorde soos "aweh" of uitdrukkings soos "WhatsApp-vriend", weerspieël die moderne lewe en tegnologie en is goeie voorbeelde van hoe die jong geslag die taal opnuut vorm. Hierdie proses van vernuwing maak Afrikaans nie net relevant nie, maar ook ryk aan kreatiwiteit en diversiteit. Elke generasie het die vermoë om die taal te transformeer, en soos die idioom sê: ’n nuwe besem vee skoon.
Met vars idees van die jonger generasies, wat die ouer tradisies lewe gee, sal Afrikaans bly ontwikkel en groei. Alhoewel informele taal al meer prominent raak, kan die nuwe generasies steeds die taal verbeter, en met die sterk fondasie wat Afrikaans reeds het, sal ons taal se inkpot nooit leegloop nie. Afrikaans is ʼn taal soos geen ander waar woorde soos “eish”, “kattebak” en “mengelmoeskardoes” in harmonie kan voortbestaan. “Ons taal het karakter en humor en solank as wat ouers Afrikaans praat, sal die kinders volg. Die appel val steeds nie ver van die boom af nie, kinders eet ook nog soms met lang tande, dit reën nog honde en katte, en daarom moet ons nie die kat aan die stert beetkry om te dink die taal sal verdwyn nie,” sê me. Linda.
Saam kan ons oor die volgende 100 jaar Afrikaans as taal hooghou, deur ons ryke tradisies te vier en steeds die taal te moderniseer en te verbeter sodat dit relevant bly in die toekoms. Kom ons wees trots op Afrikaans, want dit is die “allertaalste taal’-“ en ek dink TT Cloete sal met my saamstem.
Comments