top of page
Daniël Basson

Huiswiel wen begin met swem!

(Foto verskaf)

Melle het vanjaar se jaarlikse interhuis-swemgala, wat op Vrydag 12 Januarie plaasgevind het, as wenners weggestap. Met die hoop om weer die huiswiel in 2024 te wen, is dit vir hulle die perfekte manier om die jaar mee af te skop.


Die Helpies het egter nie opgedaag om vlieë te vang nie en het, met die goue paddavoet op die spel, ’n dag vol swem en adrenalien gehad. Uit die drie huise – Empire, Melle en Smuts – was dit Melle wat die gala gewen het, met Smuts tweede en Empire derde. Die goue plakkie is weer in Smuts se besit, ná hulle met die beste gees huis toe gegaan het.


Elke jaar het elke huis ʼn tema vir dié byeenkoms. Vanjaar se huistemas het soos volg gelyk: Empire – Boksers; Melle – Wild West; en Smuts – Shrek.

Suritha Viljoen (gr. 8) sê: “Almal was so mooi aangetrek. Dit was so lekker toe ek induik en ek hoor net hoe almal vir hul huise skree!”


Gees is sinoniem met Helpmekaar en elke huis het met oorspronklike krete, asook die gewone Helpie-krete, hul longe uitgeskreeu. Teen die einde van die dag, het elke graad ’n kans gekry om een lengte te swem en die matrieks kon die gesogte matriekswem geniet – ’n hoogtepunt tydens enigiemand se Helpmekaarloopbaan.


“Die swemgala was stampvol Helpie Magic,” vertel Smuts-huiskaptein, Bernard van Krieken (gr. 12). “ ’n Mens kon die gees in jou mond proe.”

Die Golden Boys was weer kaatjie van die baan toe dit by vermaak kom – die toonbeeld van opwinding en gees.  


Die interhuis-swemgala was die perfekte afskop vir 2024 en ’n katalisator vir die gees en huiskompetisie wat voorlê.


Megan Carstens (gr. 10) sê immers: “Selfs al kom jy doodmoeg by die huis aan, met ’n stem wat weg is en is jy ’n bietjie meer gebrand as wat jy verwag, is dit alles die moeite werd by Helpmekaar. Inruil vir al hierdie dinge, kry jy goeie tye en onvergeetlike herinneringe saam jou vriende en onderwysers.”

 

Related Posts

See All

Comentários


bottom of page