top of page

Nog stééds trots na 50 jaar

  • Candice Kruger
  • Dec 8, 2021
  • 3 min read

Hendrik Tobias Otto matrikuleer in 1972 aan die Helpmekaar Kollege en is ’n regte babbelbek as dit by sy alma mater kom. Hy is op 25 Maart 1953 gebore en word groot in die ou Vrededorp. Na graad twee gaan woon die gesin naby Melville.


Hier volg ’n paar vrae wat ek tydens die onderhoud aan hom gevra het:


Hoe het oom skool ervaar?

Dit was baie lekker. Ons het dit geniet. Ek dink dit is deesdae baie erger vir die kinders, want hulle doen moeiliker goed. Ons het baie tyd gehad om in die strate te speel, soos krieket, en ’n paar van ons ouens was mal oor die pinball-masjiene in die winkels. My held was Pietie Bardeners. Hy was so twee jaar ouer as ek en mens het net geweet dat as hy by die masjien besig was, dan gaan jy sukkel om ’n beurt te kry. So by standerd nege rond het ek besluit om gereeld te oefen en het toe in matriek aan atletiek deelgeneem.


Wat dra oom nou nog van daardie vyf jaar in oom se hart?

Stories. Ek dink nog baie terug aan my vriende en aan die onderwysers en wat ons alles gedoen het. Ek het byvoorbeeld ’n vriend in die koshuis gehad en met tweede pouse, as hy kos gaan haal het, het hy vir my ook daarvan gebring. Ek het dan sy tas by sy volgende klas neergesit. Ons het wel ’n snoepie gehad en hulle het die lekkerste koeksisters en pasteie daar verkoop. Ons was die enigste Afrikaanse skool en het dus teen al die Engelse skole deelgeneem. Ons het gewoonlik op ’n Woensdag ’n vriendskaplike rugbywedstryd teen hulle gespeel en dit is van my grootste herinneringe. Ek kan ook vir jou sê dat hulle ons altyd na ’n wedstryd met ’n koeldrank en ’n stuk koek bederf het. ’n Ander ding wat ek vir jou kan sê, is dat, met die busrit huis toe, die seuns bo in die dubbeldekkerbus en die meisies onder gesit het. En al wanneer ons hulle gesien het, was met interhoër. In standerd nege het daar ’n interessante ding by die Stadskouburg met my gebeur. Elke jaar is daar vir die Seunskool gevra om te help met van die vertonings en daardie jaar het ek en my twee vriende, Fanie Gerber en Karel Orsmond, besluit om te gaan help. Die ure was lank en ons het besluit om onder te gaan baljaar, want hulle het ons nie vir lank nodig gehad nie. Nou, die een was ’n gimnas en het besluit om aan ’n paal in die dak toertjies te doen. Ons wou ook ’n beurt gehad het, maar net voordat dit ons beurt was, toe breek die pyp wat verantwoordelik is vir die uitblussing van ’n brand. Ons was amper geskors, maar het darem net ses van die bestes gekry.


Wat dink oom laat Helpmekaar uitstaan bo die res?

Omdat hulle puik onderwysers ’n goeie hoof het en dit ’n standvastige skool is. Ek sal ook sê dat die koshuis ’n groot rol speel by die skool, want dit skep geleentheid vir briljante kinders om deel te word van die skool.


Hoe het die uniforms gelyk?

Bruin baadjies met geel strepe, maar die prefekte het bruin baadjies gedra.


Wat is oom se gunstelingherinnering aan en -tradisie van Helpmekaar?

Ek sal sê die sport. Wanneer ek moes deelneem, was dit vir my fantasties. My gunstelingtradisie was wanneer ons almal saam die skoollied kon sing.


Wat is oom se gunstelingstorie om te vertel?

Hoe ons deelgeneem het en tyd saam met die meisies kon spandeer en saam met hulle kon gees vang; definitief die onderwysers en hoe die skool ons voorberei het.


Het oom na skool sport beoefen?

Ja, ek het nog tien jaar lank atletiek gedoen en ry deesdae graag fiets en neem deel aan die 94.7 en die Argus (deesdae se Cape Town Cycle Tour).



Oom Henk na sy deelname aan die CTCT op 8 Maart 2020

Foto: Candice Kruger

Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page