top of page

Wat praat jy?

  • Alexi Davel
  • 4 days ago
  • 2 min read
ree

Haai, hallo, hoezit? Almal is maniere om te groet en ons hoor dit as ons deur die gange van ons skool stap. Ons kom almal van verskillende areas in Gauteng af en elke area het hulle eie sleng. Partykeer verstaan jy nie eens wat die ander persoon sê nie, so hier is vir jou die vertaling van die gewildste slengwoorde in sommige areas.


Ons begin in Pretoria, waar mense nie sê hulle gaan kuier nie, maar eerder dat hulle gaan “jol”. By ʼn restaurant bestel jy “slap chips” en nie skyfies nie. Jy sê nie daar is ʼn man wie se fiets goedkoop lyk nie, hoekom sou jy dit sê? Jy sou eerder sê: “Daar is ʼn outjie met ʼn zef fiets.”


As jy in die Wes-Rand sê dat iemand groot van hul kar praat, gaan mense jou vreemd aankyk. Jou moet sê: “Hy praat altyd dik wind oor sy kar.” Mense daar sê ook: “Wil iemand ʼn dop gaan klap?” maar niemand gaan geklap word nie, hulle gaan eerder ʼn alkoholiese drankie geniet ná ʼn lang dag se werk, of net vir die lekkerte.


“Kan jy glo daai chop het al weer sy wiel gestamp?” In Johannesburg mag dit dalk letterlik beteken dat ʼn stuk braaivleis ʼn kar se wiel gestamp het, maar in die Oos-Rand beteken dit dat ʼn dom ou weer sy kar gestamp het. “En die wiel was so kief!” sal jy ook hoor, wat beteken die kar het baie cool gelyk.


Sleng is deel van ons alledaagse lewe en ek is seker dat ons almal al gesukkel het om te verstaan wat mense sê, maar hopelik het julle nou ʼn beter begrip oor die sleng in jou geledere.

Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page