top of page
  • Marli du Preez

Kuberboeliery: Moenie alleen worstel nie

Met die toename in tegnologiegebruik het boelies nuwe maniere gevind om hul slagoffers te teister, en tieners is veral vatbaar vir kuberboeliery. In Suid-Afrika is daar ’n groot kans dat die kuberboelie iemand is wat die slagoffer ken, soos ’n klasmaat. AfriForum beskryf kuberboeliery as “opsetlike en aggressiewe gedrag wat deur elektroniese toestelle uitgevoer word”. Dit kan in baie vorme voorkom, soos aanstootlike boodskappe op sosiale media, dreigemente via teksboodskappe, die verspreiding van vals gerugte, en doxing – die publisering van private inligting oor iemand op die internet. Hierdie gedrag kan ernstige emosionele en sielkundige gevolge hê, soos angs, depressie, en selfs selfdoodgedagtes.


Volgens ’n opname deur Ipsos is kuberboeliery algemeen in Suid-Afrika. In 2018 het meer as die helfte van ouers wat aan die studie deelgeneem het, gesê dat hulle bewus is van ’n kind – hul eie of iemand anders s’n – wat ’n slagoffer van kuberboeliery was. Dit was die hoogste persentasie uit die 28 lande wat in die studie betrokke was. Verder het die opname getoon dat in byna sewe uit tien van die Suid-Afrikaanse gevalle die kuberboelie ’n klasmaat was.


Brent Lindeque, ook bekend as die Good Things Guy, het in ’n onderhoud met Magdel Louw van Netwerk24 op 4 Augustus sy ervaring met kuberboeliery gedeel. Hy vertel: “Ek wou vlug. Weghardloop. Om daagliks so konstant sleggesê en gedreig te word, breek bietjie vir bietjie jou siel af.” Met die hulp van sy prokureur, IT-span en sy lewensmaat, Andrew, het hy uiteindelik die boelie se identiteit onthul. “Hy is toe al die tyd net hierdie kleine ou onskadelike mensie.”


As jy kuberboeliery ervaar, moenie daarop reageer nie. Blokkeer en rapporteer die profiel en hou bewyse van die boeliery. Deel dit met ’n ouer, onderwyser of iemand wat jy vertrou. As jy vermoed iemand anders sukkel met kuberboeliery, is dit belangrik om eerlik met hulle daaroor te praat en hulle te help om die moed te kry om dit met ’n grootmens te deel.


Deur bewusmaking en ondersteuning kan ons ’n veiliger digitale omgewing vir almal skep. Hier is ’n paar hulpbronne:

• Kinderleiding: kinderleiding@helpmekaar.co.za

• Kinderlyn SA: (011) 645 2000

• Kinderlyn-hulplyn: 116

• Teenboeliegids: https://afriforum.b-cdn.net/wp-content/uploads/2023/05/Teenboeliegids.pdf

• Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag): https://www.sadag.org

• Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef): https://www.unicef.org/southafrica

Related Posts

See All

Comments


bottom of page