top of page
  • Ingrid Holm

Innovasie vanuit die IT-department



Die IT-departement by Helpmekaar Kollege het die afgelope ruk ʼn klein rimpeling deur die skool se gange veroorsaak. Waar meeste van die IT-verwante aktiwiteite meestal so stil-stil en onder die radar gebeur, het die departement se innoverende werk egter dié keer gesorg vir ʼn groot WOW!-oomblik.


Nadat Pedro Basson (gr. 12) en Reinhardt de Wet (gr. 12) die skool stomgeslaan het met hul program Soekmekaar (wat hul self geskryf het om leerders te help om klaskamers te vind) is dit duidelike dat die toekoms van IT in die skool, en in die wêreld, belowend en doelgerig blyk te wees.


Mnr. Sean Barber (hoof van die IT-departement) sê: “Covid het ʼn groot verandering in meeste mense se opinie oor IT en tegnologie veroorsaak. Mense was geforseer om van baie meer tegnologie gebruik te maak in hul alledaagse lewens.” Gedurende Covid het platforms soos e-skool as die hooflewensredders ingetree. Waar hierdie programme vroeër ʼn meer ondersteunende rol in die algemene bestuur van die skool vervul het, het dit in die laaste twee jaar ʼn onmisbare rol ingeneem rakende al ons skoolwerk. Mnr. Sean sê dat daar wêreldwyd ʼn groot vooruitgang in tegnologie was tydens hierdie tydperk, en dat daar geskat word dat IT se rol in die samelewing tot tien jaar vooruitgestoot is. Selfs al is ons nie tans meer so aktief op van die programme nie, is mnr. Sean oortuig daarvan dat die aanvaardingspyl van digitale platforms vir skoolwerk baie gestyg het.


Binne dié nuwe konteks word die moontlikheid om leerlinge te betrek by die bestuur en bevordering van platforms soos e-skool of helpmekaar 24, nie uitgesluit nie, maar sekere uitdagings in die gesig staar. “Die uitdaging om leerders betrokke te maak by enige assesseringsaangeleentheid is maar hoofsaaklik kwessies rakende onregverdigheid of oneerlikheid. Die opvatting bestaan ongelukkig dat hierdie leerders oor die kennis beskik oor hoe om die stelsel te manipuleer en te kul, selfs al is dit meeste van die kere nie die geval nie.”


Mnr. Sean is oortuig van die potensiaal van die skool se “kranige programmeerders”, en hy is seker dat daar nog oorspronklike en kreatiewe idees vanuit die IT-klaskamers sal voortkom. In dié vakrigting word leerders geleer hoe om ʼn probleem te identifiseer en dan daarvoor kreatiewe oplossings te verskaf deur gebruik te maak van moderne gereedskap. Daar heers groot opgewondenheid en afwagting oor wat die toekoms nog alles vir die vak gaan bied.



Related Posts

See All
bottom of page