Met 50 wedstryde vir Helpmekaar Kollege se eerste span op haar kerfstok, het Leonie Zopick op 18 reeds haar merk in die netbalwêreld gemaak. Haar reis getuig van toewyding, passie en deursettingsvermoë, skryf Emily Olivier.
Leonie Zopick (gr. 12) se liefde vir netbal het so vroeg begin dat sy “nie ’n tyd kan onthou wanneer ek nie netbal gespeel het nie”. Een van haar gunstelingoomblikke op die baan, was ’n wedstryd waarin haar span besig was om te verloor maar uiteindelik daarin geslaag het om te wen. “Ons span het met soveel gees en passie deurgedruk en gewen,” onthou sy trots.
Die deursettingsvermoë wat Leonie in haar spanmaats bewonder, is ook duidelik in haar benadering tot sport en die lewe. Sy sê sy stel altyd doelwitte vir haarself en herinner haarself daagliks daaraan. “Die belangrikste les wat ek deur netbal geleer het, is om nooit moed op te gee nie.”
Om haar persoonlike lewe en akademiese verantwoordelikhede met haar netbalverpligtinge te balanseer, was een van Leonie se grootste uitdagings. Ten spyte daarvan, het sy maniere gevind om haar tyd doeltreffend te bestuur. “Ek kry dit nie altyd reg nie, maar die beste ding is om vooruit te beplan.”
Het sy raad vir aspirant-atlete? “Al is jy nie lus om daar te wees om te oefen nie, en al wil jy eerder bietjie gaan ontspan, dink net aan al die moeite wat jy vir jouself ingesit het om ’n sukses te maak van jou sportloopbaan,” sê sy.
Leonie se netbalreis is nog lank nie verby nie. Terwyl die toekoms baie onsekerheid inhou, weet ons dat met haar strewe na sukses en haar onwrikbare vasberadenheid is die moontlikhede eindeloos vir hierdie jong ster.
Comments