Bekende en bekroonde vioolspeler, Zanta Hofmeyr, gesels met Coenraad Olivier haar loopbaan en haar betrokkenheid by die ontwikkeling van jong musikante.
Op 17 gryp oud-Helpie, Zanta Hofmeyr die geleentheid om in New York aan die Juilliard School onder leiding van Dorothy Delay te gaan studeer aan. Dit is by die einste Delay dat Hofmeyr die kosbare les geleer het om nie net hard te werk nie, maar ook om jouself te prys wanneer jy weet dat jy goed gedoen het. Ná haar graduering aan Juilliard, maak Hofmeyr haar debuut in New York in 1985 as die wenner van die Artists International-kompetisie in die beroemde Carnegie Hall. Dit was die begin van vele internasionale optredes.
Oor prestasies is Hofmeyr beskeie, maar sy voel dat haar grootste prestasie was toe sy in 1999 in die destydse Grahamstad 10 sonates van Beethoven uitgevoer het oor drie konserte in ‘n tydperk van vyf dae. Dit was ‘n enorme uitdaging en tog het sy dit reggekry om dit weer te gaan herhaal vir die Amerikaners. Sy voel egter dat haar eerste probeerslag te Makhanda die grootste en kosbaarste prestasie van haar lewe is.
Hofmeyr se virtuose spel, saam met haar sagte glimlag, is ‘n inspirasie vir almal wat met haar te doen kry, maar wie inspireer haar? “Enigiemand wat positief is en met entoesiasme lewe,” sê sy. Itzhak Perlman, wat beide sy bene weens polio verloor het en ten spyte daarvan een van die beste violiste geword het wat ooit gelewe het, is vir haar ‘n groot bron van inspirasie.
Hofmeyr is passievol oor die rol wat musiek in jong mense se lewens speel. “Musiek kan ’n aktiwiteit wees wat kinders positief kan besig hou en dus weghou van negatiewe invloede of verveeldheid. Jong mense wat hard oefen en die standaard van spel in ’n omgewing verhoog inspireer mekaar gewoonlik tot hoër hoogtes,” sê sy.
“Dit skep ’n gees van uitnemendheid wat aansteeklik kan wees vir almal wat dit hoor en waarneem. Jong mense wat saam musiek maak, word dikwels ook goeie vriende en sulke vriendskappe is dikwels lewenslank en baie betekenisvol.”
Dit is nie net leë woorde nie. Hofmeyr is aktief betrokke by die ontwikkeling van jong musikante uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Sodoende gee sy vir hierdie kinders die geskenk van selfvertroue, die vaardigheid om ‘n instrument te bespeel, maar bo alles – vreugde en vriendskap!
Hofmeyr se raad aan Helpies met ‘n spesiale talent of droom is: “Werk so hard as wat jy kan om jou tegniek op ‘n hoë vlak te kry. Hoe beter jy voorberei vir enigiets, hoe meer selfvertroue sal jy hê.”
Die storie van die viool
Uiteindelik bly net die storie van die viool nog oor om te vertel. Hofmeyr het destyds met ʼn geleende viool in New York gaan studeer. In haar tweede jaar kom sy “toevallig” op ʼn koue wintersoggend in ʼn viool-winkel af op ʼn viool van ʼn onbekende fabrikaat, maar met ʼn uitsonderlike klank. Sy hardloop na haar dosent. Mev. Delay onderbreek die les waarmee sy besig was en terug in die winkel bevestig sy saam met ʼn beroemde konsertmeester wat ook “toevallig” daar aangekom het dat dit inderdaad ʼn baie spesiale viool is. Hofmeyr se pa, wat ʼn sendeling was met min geld en ʼn groot geloof, slaag daarin om geld te leen om die viool te koop. Jare later, in 2008, ontmoet Hofmeyr vir Alberto Giordano beroemde vioolmaker en kurator van die “Cannon” waarop Paganini gespeel het, in Genoa, Italië. Hy bevestig dat Hofmeyr se viool ʼn kopie van die “Cannon” is! En op hierdie hoë noot kan hierdie formidabele vrou en haar viool lank en gelukkig saamleef.
Dinge wat jy nie van Zanta Hofmeyr geweet het nie:
· Sy is die oudste van agt kinders.
· Sy eet altyd ʼn gekookte eier 30 minute voor ‘n konsert.
· Sy luister graag na Jazz, Billy Joel en Mango Groove.
· As sy enige plek in die wêreld kan optree, sal dit in die Carnegie Hall in New York wees, waar sy in 1985 haar debuut gemaak het.
Commentaires