Van kleintyd af het Coenie de Villiers ʼn passie vir musiek. Met sy ma wat ʼn musiekonderwyseres was, is daar niks wat hom kon keer om ook sy eie melodieë op papier neer te skryf nie.
Al is De Villiers bekend vir sy musiek, glo hy nie dat hy ʼn loopbaan daaruit gemaak het nie. “Jare later, as ʼn mens oor jou skouer kyk – dan sien jy dis seker ʼn loopbaan wat agter jou strek.”
Boonop stel De Villiers dat hy nie liedjies geskryf het om roem te verwerf nie. “Roem is iets wat nie werklik bestaan nie, dit is iets wat net in sommige mense se koppe leef.”
Loopbaan of nie, De Villiers hou homself besig met optredes en vind dit heerlik om met die jeug van vandag te werk om musiek te maak. Hy het nie net verlede jaar saam met die Helpmekaar-koor opgetree nie, maar hy bied ʼn splinternuwe opelug Hip-Hop-konsert saam met, onder andere, Early-B, aan om geleenthede vir jonger kunstenaars te skep om ook met hulle talente te kan spog. De Villiers reken dit hou sy eie werk vars en is beslis een van sy musiek-hoogtepunte.
Soos wat De Villiers saam met die jeug werk, erken hy dat die musiekindustrie wel baie verander het. So, as iemand vir hom raad vra, beweer hy dat daar nie veel is wat hy kan sê nie. Die enigste raad wat De Villiers vir iemand kan gee is: “As jy ʼn passie vir musiek het, doen dit.” Hy reken as jou werk waarde het, sal dit êrens vastrapplek kry. Gebruik sosiale media om jou te help om jou persoonlike stempel op musiek te kan afdruk. Weereens het De Villiers beklemtoon dat jy dit nie moet doen om roem te verwerf nie. Hy sê dat jy musiek moet maak as jy dit geniet.
As De Villiers oor sy liedjieskryfproses uitgevra word, sê hy dat iemand iets sal sê wat dan in sy kop vassteek. Later sal hy kyk of hy ʼn melodie agter die woorde kan sit. Sy een doel is wel om liedjies te skryf wat die luisteraars na ʼn plek neem waar hulle gelukkig was. “As kunstenaars vir iemand betekenisvol die lewe kan beter maak, is dit al waarvoor ʼn mens kan vra.” ʼn Paar sulke oomblikke was toe De Villiers in Kanada voor ʼn Engels- en Franssprekende gehoor opgetree het. Hy vertel dat ʼn vrou ná die vertoning met rooigehuilde oë na hom toe gekom het en gesê het dat Afrikaans die mooiste taal was wat sy nog ooit gehoor het. ʼn Ander geleentheid was toe die hele gehoor van 10 000 mense hulle selfoon-flitse in die lug gewuif het vir hom en Francois van Coke tydens ʼn opvoering van Johannes Kerkorrel se “Hillbrow”.
Al erken hy dit nie self nie, het Coenie de Villiers ʼn groot impak op Afrikaanse musiek gemaak en daar is, definitief, ʼn plek waarnatoe hy die gehoor stuur wanneer hy begin sing.
Comments