top of page
  • Jaiden Henning

Sosiale media-oorlewingsgids: volg dié blaaie


In die moderne wêreld waarin ons lewe, is dit onmoontlik om nie op sosiale media te wees nie. Kinders, leerders en selfs bejaardes maak gebruik van sosiale media op ʼn daaglikse basis. Party mense gebruik dit as ʼn ontspanningsmiddel, ander as ʼn manier om by te hou met die immer veranderende wêreld. Dit kan selfs gebruik word as ʼn manier om inkomste te verdien. Een van die gewildste sosiale media platforms is Instagram, wat ongeveer een biljoen gebruikers het. Daar is baie Instagram-blaaie waardeur ʼn mens vir ure aaneen kan blaai, maar watter Instagram-blaaie is ʼn moet vir elke Helpie?


Die eerste Instagram-blad waarvan elke Helpie gebruik moet maak, is Study buddy [@_.study_motivation]. Nie almal hou van leer nie, vir party dit ʼn onnodige deel van skool, maar ongelukkig is die waarheid dat elke Helpie moet leer. Dié Instagram-blad is propvol motiverende aanhalings en foto’s wat illustreer wat jy kan bereik indien jy lang ure agter die boeke insit. Binne die eerste twee weke wat dit aktief was, het dit 3 400 volgelinge gekry – ʼn vanselfsprekende aanduiding van hoe motiverend die blad werklik is.


Alle leerders by Helpmekaar het Afrikaans Huistaal as ‘n vak, van die leerders vat selfs Verdere Studies Afrikaans. Juis daarom word ATKV [@atkv_sa] voorgestel. Die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) is die land se primêre Afrikaanse taalorganisasie. Op hul Instagram-blad plaas hulle daagliks taalwenke en advertensies oor taalfeeste. Hulle hou gereeld konferensies daarop oor hoe die Afrikaanse taal verbeter kan word asook hoe om dit relevant en lewendig te hou vir die jonger generasies. Met die magdom taalwenke kan jou Afrikaanse punt net ʼn welkome hupstoot kry.


Vir die Helpies wat derde tale neem, is daar ʼn verskeidenheid Instagram-blaaie wat hulle kan volg. Die beste vir die leerders met Frans as ʼn vak is Alliance Francais of Johannesburg [@afjohannesburg] ʼn goeie opsie.

Die Duitse en Spaanse eweknieë is onderskeidelik Goethe-Institut [@Goetheinstitut] en Instituto Cervantes de Argel [@Institutocervantesargel].


Helpmekaar is nie net ʼn skool wat met akademiese en kultuur prestasies spog nie, maar ook op sportgebied uitblink. Vir die rugbyliefhebbers is SA Rugby magazine [@sarugbymag] dié Instagramblad om te volg. Die SA Rugby Magazine is een van die land se gewildste tydskrifte en Instagram-blaaie oor rugby tot op hede. Dit het alles, van illustrasies van die nuutste spelers tot datums van wedstryde en statistiek van spelers. Vir netbalentoesiaste is daar Netball South Africa [@netballsa], wat net so gewild is soos SA Rugby Magazine en oor die 100 000 volgelinge het.


Die laaste Instagram-blad waarsonder geen Helpie sou kon gaan nie, is natuurlik Helpie-Flitse [@helpieflitse]. Die Helpie-Flitse is die amptelike skoolkoerant en word daagliks opgedateer met die nuutste gebeurtenisse by Helpmekaar Kollege. Van onderhoude met nuwe onderwysers tot foto’s en uitslae van sportwedstryde en ʼn voorsmakie van kultuuropvoerings word daarop geplaas. Dit is die trots van die skool se redaksie en beslis die belangrikste Instagram-blad wat elke Helpie móét volg.

Comments


bottom of page