top of page
Aldoné Kok

Sewe sakke sout klaar geëet, dis wat ons weet


Met ouer word kom wysheid en met ervaring kom kennis. Daar is diep spore getrap in die laaste vyf jaar deur elke matrikulant van Helpmekaar Kollege. Soos hierdie journey tot ’n einde kom en elke matrikulant hul vlerke gereed maak om te vlieg, word daar eers op ’n paar spesiale oomblikke teruggekyk en wyse raad deur ’n paar Helpies gedeel.


Margitte Kirstein (hoofdogter)

Die hoogtepunt van my hoërskoolloopbaan was definitief om saam met my medehoofleiers te deurnag by die skool tydens die graad 8’s se ontgroening. Ons het so baie gelag en herinneringe gemaak wat ek altyd sal koester. 

My raad aan toekomstige matrikulante van Helpmekaar Kollege is om elke geleentheid aan te gryp. Leer hard, maar moenie sosiale geleenthede en vriendskappe afskeep nie, want op die van die dag is dit wat jy van jou matriekjaar gaan onthou! Moet ook nooit vergeet om rus by die Here se voete te vind nie – jy gaan dit nodig hê.


Lehan Kruger (hoofseun)

Vriendskappe en bande wat vorm wat ’n leeftyd sal hou, is beslis my hoogtepunt van my hoërskoolloopbaan.

 It’s you vs. you – daar is twee dinge waaroor jy wel beheer het, jou gesindheid en jou pogings! Fokus op die een trappie voor jou en nie die hele stel trappe nie.


Zonika de Vries (Beauty 2023) 

My hoogtepunt was ’n kombinasie tussen die kunste, Beauty and the Beast, tienertoneel en ’n ongelooflike naweek van produksie opnames wat ’n hoogtepunt vir my gevorm het. Ek het ook vanjaar van die ongelooflikste mense ontmoet wat ek weet ’n leeftyd saam met my sal vorm deur die jare van universiteit wat voorlê.

 Moenie alles altyd opvat as ’n kompetisie nie. Sodra jy daardie ingesteldheid  het, is jou fokus net daarop geplaas en vergeet jy om te kyk na alles anders wat jy deur die proses leer en geniet. Dinge werk altyd uit soos wat dit moet.


Christiaan Steyn (eerste rugbyspankaptein)

Elke liewe keer wat ek op die Bult uitgedraf het, sal altyd na aan my hart wees.

Maak foute, dis al hoe jy leer. Die fight is nooit verby nie, net wanneer jy opgee. As jy iets wil bereik, wees bereid om te sacrifice – niks kom verniet nie.


Tessa Volschenk (dirigent)

My hoogtepunt van hoërskool is ’n versameling van herinneringe van vriendskappe gemaak tydens kampe en toere soos ons Augustus-toer, die Journey, Groenklub en veral die Take-a-break-kamp van 2021 waar ek myself in die Here gevind het. 

Moenie wag tot matriek om aan alles te probeer deelneem en die beste te kry van alles wat Helpmekaar vir jou kan bied nie. Ek glo ’n mens word nie eers in graad 11 tot dirigent verkies nie. Dit is ’n vier jaar verkiesingsproses! Want ek het van graad 8 af reeds op en af gespring, my stem weg geskree en soveel JOY as moontlik met my mede-Helpies gedeel by elke moontlike byeenkoms.


Jos Kotze (top akademiese presteerder)

Ek sou sê dat my hoogtepunt seker die Augustusvakansie verlede jaar was. Dit was so ’n goeie geleentheid gewees om meer mense in ons graad te leer ken en meer te leer oor die wêreld rondom ons en ander wyses van lewe. Die enigste raad wat ek kan gee is om jouself te back. Doen wat van jou verwag word, ongeag van die scenario, of dit sport of akademie is en alles sal uitwerk soos dit moet.


Jané Mulder (eerste netbalspankaptein)

 My hoogtepunt van hoërskool is definitief my netballoopbaan. Ek was bevoorreg om elke jaar SA’s toe te gaan en dit was veral ’n hoogtepunt toe ons dit gewen het. Ek hou baie van spansporte en die hegte band wat ek met my spanmaats gevorm het. Ons het emosies gedeel, goed en sleg, en het soos ’n familie geword en dit sal ek elke dag in my hart dra. My raad aan toekomstige matrikulante is om hard te werk vir dit wat jy wil hê en elke oomblik te geniet en in te neem, want jou vyf jaar in die hoërskool is binne ’n oogwink verby.

 

Comments


bottom of page