Om as uitruilstudent vir ses weke na Bielefeld, Duitsland te gaan, was ʼn ongelooflike reis gevul met verrykende ervarings. Om eerstehands van Duitse tradisies te leer, was ʼn unieke ervaring, wat my oë oopgemaak het vir ʼn nuwe wêreld en om ʼn tradisionele Duitse troue te beleef, was die hoogtepunt van my reis.
My gasheerfamilie se gasvryheid was werklik hartverblydend. Hulle het my met ope arms verwelkom en my deel van hul familie laat voel. My jonger gasheersuster het werklik vir my soos ʼn regte sussie geword en sy sal altyd ʼn spesiale plek in my hart hê. My gasheerfamilie se vriendelikheid en vrygewigheid het ʼn blywende indruk op my gelaat.
Tydens my verblyf het my taalvaardighede aansienlik verbeter soos ek daagliks met familie en vriende gesels het. Hierdie ervaring het nie net my begrip van die taal verbeter nie, maar het my ook as mens help groei, wat my kulturele bewustheid bevorder het, soos ek dag na dag met nuwe mense te doen gehad het en hartsvriende en -vriendinne ontmoet het.
Duitse kookkuns is ʼn plesier vir die sintuie! Die romerige Schnitzel en geurige Bratwurst saam met Pommes, het elke maaltyd ʼn kulinêre plesier gemaak. Laat ek ook nie vergeet van al die lekkernye soos swartwoudkoek nie.
My eerste Duitse Kersfees was werklik iets uit ʼn sprokiesverhaal. Die Kersmarkte, bekend as “Weihnachtsmarkte,” met flikkerende liggies, heerlike lekkernye en wonderlike Kersmusiek, het ʼn betowerende atmosfeer geskep. Die Duitse Kerstradisies, soos om die Kersboom te versier, Kerskoekies, genaamd “Lebkuchen”, te bak en die Kermis by te woon, het my hart met vreugde en warmte gevul. Die geur van geroosterde amandels en gemmerkoekhuisies het bygedra tot die feestelike sjarme.
Bielefeld is ʼn skatkis van asemrowende terreine, wat jou in verwondering sal laat! Van die pragtige Sparrenburg-kasteel, wat oor die stad uitkyk tot die skilderagtige ‘’Alt Stadt’’ (Ou stad) met sy bekoorlike vakwerkhuise. Elke hoek van Bielefeld is beslis ʼn besienswaardigheid om te aanskou!
My tyd in Duitsland was beslis ʼn transformerende reis, wat my lewe op soveel maniere verryk het. My tyd in Duitsland sal altyd ʼn spesiale plek in my hart hou, as ʼn tyd van leer, groei en onvergeetlike herinneringe...
Comments