Roxette sê hallo, how do you do!
- Mia Ainslie
- Apr 1
- 2 min read

Kom ons wees eerlik met mekaar... watter tiener wil op ʼn Vrydagaand saam met ʼn klomp 50-jariges na ʼn band uit die 90’s gaan luister? Toe my ma verlede jaar met kaartjies by die huis kom vir Roxette se konsert, was ek nie juis opgewonde daaroor nie. Ek was baie skepties oor hierdie uitstappie. Nie net is Roxette se stigter en liedjieskrywer, Per Gessle, 66 jaar oud nie, maar die oorspronklike hoofsanger en ster van fliektreffers uit Pretty Women, Marie Fredrikson, is in 2019 oorlede. Ek het nie geweet wat om van haar plaasvervanger, Lena Phillips, te verwag nie.
So bevind ek my by die Sunbet Arena in Pretoria op 28 Februarie tussen ʼn klomp Baby Boomers en lede van generasie X in T-hemde met olifantjies op. Ek kan die mense onder 20 op my vingers tel sonder om ʼn ekstra hand te leen. Maar toe begin die musiek speel... Binne ʼn paar minute vang ek myself dat ek saam hande klap en ek ken sowaar die woorde van die liedjies, want Roxette is toe blykbaar ʼn jonger weergawe van ABBA – almal ken hulle liedjies! Roxette kry dit reg om my aangenaam te verras. Hulle speel al hulle gunstelinge soos Fading like a Flower en Listen to Your Heart, slaan die verhoog aan die brand met Joyride en How do you do! en bewys waarom hulle tussen 1989 en 1991 vier nommer een liedjies op die Amerikaanse Billboard Hot 100 gehad het. Mense naby aan aftree klap hande, sing (skree?) uit volle bors saam en sommiges dans selfs opgewonde op hulle stoele. Roxette het dit duidelik reggekry om hulle terug te neem na die dae van walkmans en tapes.
Die konsert sal nie onthou word vir die ligte en spesiale effekte nie, maar daar was beslis ’n atmosfeer. Lena Phillips het glad nie teleurgestel soos ek gevrees het nie en op haar eie manier gee sy lewe aan elke liedjie. Haar huldeblyk aan Marie (It must have been love but it’s over now) met duisende selfoonliggies in die donker gehoor was vir my ʼn hoogtepunt. En wat is ʼn konsert in Pretoria sonder ʼn lekker rock weergawe van “Suikerbos” op ʼn elektriese kitaar nie?
Roxette en hulle liedjies is dalk oud maar die joyride is beslis nog nie verby nie!
Yorumlar