Emma Bornman (gr. 11) was een van die jongste spanlede wat Suid-Afrika onlangs by ’n internasionale skietkompetisie in München, Duitsland, verteenwoordig het. Sy het Lienke Olivier van dié ervaring vertel.
Waar kom jou liefde vir skyfskiet vandaan?
Van kleins af het ek op my oupa se plaas teiken geskiet. My ma het my ook altyd vertel van haar skiet toe sy op skool was. Sy het haar Springbokkleure verwerf en dit het my geïnspireer.
Vertel vir ons van jou voorbereiding en oefenprogram vir die Internasionale Skietsportfederasie se wêreldbekerbyeenkoms (ISSF) in Junie voorberei?
Ek het soveel as moontlik skiet geoefen – amper elke dag! ’n Oefening is ongeveer twee ure lank en ek skiet min of meer 80 skote per sessie. Laat aande en ver ry na skietbane toe was deel van my roetine.
Vertel ons van jou kompetisie-ervaring?
Om op ’n internasionale baan te kon skiet waar alles vlot verloop en waar daar ’n honderd skuts per sessie skiet, sal my altyd bybly. Alhoewel ek nie die telling geskiet het wat ek graag wou nie, is ek baie tevrede. Vir my is dit ’n baie groot prestasie om 142ste in die wêreld by ’n seniorkompetisie te eindig.
Hoe het jy die Proteaspan en die stad München beleef?
Die span was baie spesiaal en ondersteunend. In die stad was die Hofbräuhaus [die bekende bierhuis] ’n hoogtepunt en ook die tuisgemaakte roomys op straat.!
Wat het jy uit die kompetisie geleer?
Skiet leer my om vas te byt, en dat daar altyd groter drome is wat bereik kan word.
Wat is jou volgende doelwitte in skyfskiet?
My korttermyndoelwit is om te kwalifiseer vir die senior- Proteaspan. Hopelik kan ek in die toekoms die junior rekord verbeter.
Wat dink jy van die vlak van skyfskiet by Helpmekaar?
In Graad 8 was die skietonderrig by die skool fantasties. Dis ook hierdie afrigting wat die liefde vir die sport by my gekweek het. Vandat ek oorgeskuif het na Presisie toe, het dit moeiliker geraak om skooloefeninge by te woon omdat ek op elektroniese teikens begin oefen het. [Presisie is ’n kategorie waarin ’n skut oor ’n afstand van 10m met ’n luggeweer na elektroniese teikens van 30mm skiet.] Ek is opgewonde oor Helpmekaar se skiettoekoms!
Wie is jou rolmodel?
Roger Federer. Soos hy sê: Perfeksie is onmoontlik. Sit foute dadelik agter jou en kyk vorentoe.
Comments