top of page

“Dit is verrykend én insiggewend, elke dag” vertel Helpie-onnie

Kaitlin Scott

Kaitlin Scott gesels met Engels Huistaal-onnie, Me. Hanneli Vivier oor haar gunstelinge en die waarde van Engels as ʼn vak.


Me. Hanneli Vivier (Foto: Mia Ludik)

As juffrou vir een dag in ‘n bekende skrywer se skoene kon lewe, watter skrywer sal juffrou kies en hoekom?Roald Dahl.  Hy het ʼn baie interessante lewe gehad.  Hy het die vermoë gehad om sy wedervaringe te omskep in die eienaardigste en prettigste stories.  Ek sou dit geniet om my tyd te verdryf met verbeeldingryke wêrelde en kostelike karakters vir een hele dag.  Sy stories het soveel vreugde versprei.

 

Wat is juffrou se gunstelingboek in die EHL-kurrikulum?Huidiglik, The Purple Hibiscus, van Chimamanda Ngozi Adichie.

 

Wat is juffrou se persoonlike gunstelingboek?

Ek het al baie boeke gelees, maar die een wat my steeds na jare die meeste bybly, is The Kite Runner van Khaled Hosseini.  Dit is meesterlik geskryf en dit het my geruk uit my fondamente – maar dis ook ʼn storie van hoop en vergifnis, waaruit ek baie kon leer.

 

Hoekom, volgens juffrou, is EHL as vak van waarde?English Home Language is aktueel en soms, kontroversieel.  Ons hoofdoel is om enige soort teks te begryp, te analiseer, te evalueer en self te verwoord. Dit is ʼn ongelooflike belangrike, en sinvolle, vaardigheid om te bekom, veral vir verdere studies. Verder word leerders blootgestel aan mense se lewenservaringe, kwesbaarheid, ideologieë en passies deur geskrewe of visuele tekste. Ons bevraagteken alles en maak ingeligte gevolgtrekkings, met nuwe begrip en waardering vir iets of iemand anders. Hierdie vak bemagtig jou denke, beïnvloed jou keuses en verbreed jou menswees.  Oliver Holmes skryf “Language is the blood of the soul into which thoughts run and out of which they grow.” EHL is baie goeie kompos vir intellektuele groei!

 

Wat is juffrou se gunsteling-Shakespeare play en hoekom?Dis ‘n moeilike een… daar is so baie! Ek is versot op “Twelfth Night” as ʼn komedie – dis vreksnaaks.  Wat sy dramas betref, is “The Tempest” my gunsteling.  Hy het dit aan die einde van sy lewe geskryf en daar is ’n opmerkende verskil in sy styl en boodskap, in vergelyking met ander toneelstukke wat hy moes skryf vir koninklikes. Dit spreek van sy eie visioenêre uitkyk op die lewe, sy sin vir geregtigheid, en lewer kritiek op rassisme, imperialisme en seksisme.  Sy persoonlike ’stem‘ weerklink definitief in hierdie laaste meesterstuk.

 

Wat is juffrou se gunstelingopdragte om te merk?

Taaltoetse en ‘reflective essays’. Op ʼn goeie dag, ‘literary essays‘.

 

Jane Austen of Charles Dickens?

Jane Austen

 

Wat is ‘n boek wat juffrou voorstel alle tieners moet lees?

Anthony Doerr se “All The Lights We Cannot See”.  Dit lewer ‘n kragtige boodskap oor identiteit en selfontdekking van twee uiteenlopende tieners, teen die agtergrond van ’n onstuimige wêreld. 

 

As juffrou ‘n boek oor Helpmekaar sou skryf, wat sou die titel wees?“Brood op die water”.

(soos in die gesegde: Werp jou brood op die water).


Hoekom het juffrou gekies om ‘n Engelse onnie te word?

Ek dink dit het my gekies! My grootste oorweging was my liefde vir stories en my nuuskierigheid oor die ‘hoekom’s’ en die ‘waarom’s‘ in die lewe.  Ek is lief vir ALLES wat die vak bied – ek raak selfs opgewonde oor ‘nouns’ en ‘verbs‘! En ek kry groot genot daaruit om tekste se geheime te ontsluit, boustene te identifiseer en verskillende opinies te hoor.  Dit is verrykend én insiggewend, elke dag.

Related Posts

See All

コメント


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page