Wil jy interessante illusies en prikkelende prente beleef? Marli du Preez skryf oor ’n vakansiebesoek aan die Museum van Illusies.
Die Museum van Illusies in Rosebank, Johannesburg, huisves ’n rits interaktiewe uitstallings wat van optiese illusies tot breinbrekers insluit. Besoekers kan hulself in ’n kantelkamer bevind, waar grootte en perspektief op fassinerende maniere verander, of hulle kan in die eindelose dieptes van ’n vortex-tonnel rondtol, wat hul balans en oriëntering verwar. Die uitstallings is ontwerp om nie net te vermaak nie maar ook om die wetenskap en sielkunde agter illusies te verduidelik.
Daar is ook hope geleenthede vir eienaardige en kreatiewe foto’s.
’n Gunsteling was die Beuchet Chair-uitstalling. Eers lyk dit net soos ’n blad en drie pale, maar uit ’n bepaalde hoek lyk dit soos ’n reuse-stoel waarop ’n mens kan sit.
Buiten die visuele aantrekkingskrag, is die museum ’n leerplek. Dit bied insig in hoe ons breine werk en hoe ons soms maklik mislei kan word. Vir dié wat belang stel in wetenskap of kuns, is die Museum van Illusies ’n plek waar hierdie velde op ’n innoverende manier bymekaarkom.
Hier ontdek jy dat die wêreld om ons vol verrassings is en dat dinge dikwels nie is soos dit lyk nie. Dit is ’n plek waar elke besoek ’n geleentheid is om opnuut verwonderd te wees.
Die Museum van Illusies in The Zone, Rosebank, maak daagliks 09:00 oop. Kaartjies kos R190 per volwassene en R150 per kind (4 tot 12 jaar oud). Bespreek dit vooraf aanlyn.
ความคิดเห็น