top of page
  • Gabby Rademeyer

Danni dans Jozi-verhoë aan die brand


 

Ballet was die eerste dansstyl waarop Danni Carr (gr. 10) as klein dogtertjie verlief geraak het. Sy was onlangs in ’n produksie van die bekende ballet Giselle. Danni neem ook deel aan kompetisies waar sy klassieke ballet, neo-klassieke ballet, jazz, moderne en liriese dans doen. Sy sê haar inspirasie is haar dansjuffrou, Jayd Swart. “Sy’s kreatief en gee baie aandag aan haar dansers en werk.”


Danni is die afgelope drie jaar deel van die Jozi Youth Dance Company en vanjaar ook ’n hoofdanser.

As deel van dié dansgeselskap het sy die rol van ’n plaaswerker in die balletproduksie Giselle vertolk. “Giselle is ’n storie oor ’n lieflike boeremeisie met ’n swak hart en ’n passie vir dans,” vertel sy. Danni het die verhoog gedeel met bekendes soos Ruan Galdino en Gabriel Fernandes, wat albei dansers uit Brasilië is. Danni is ’n spontane danser en vind genot in elke produksie waarby sy deel is. “Ek spandeer so baie tyd met my gunstelingmense en oefen so hard en so lank dat ek gewoonlik glad nie op my senuwees is nie. Dit is net nog ’n keer op die verhoog,” vertel sy.


Sy het ook vanjaar in die produksie Chaphaza gedans, maar kon weens ’n besering nie deel wees van Cinderella – A Contemporary Take on the Classic Fairytale nie. Sy het ongelukkig laas jaar haar enkel seer gemaak . Weens al die konstante oefeninge en produksies het sy nie kans gehad om haar enkel te rus nie. Danni sê: “Ek het skeef getrap by die skool en ongelukkig ’n paar ligamente geskeur asook ’n been in my enkel gekraak.” Weens dié besering was sy vir agt weke op krukke en vyf weke in ’n moonboot.


Hoe word jy deel van die Jozi Youth Dance Company? Oudisies vir produksies is aan die einde van elke jaar en teen Januarie is die dansers volstoom besig om te oefen.


Danni is volgende jaar weer op die verhoog in Chookas! – Die klassieke woord “Chookas” is hoe ballet dansers mekaar sterkte toewens. Chookas Danni!

Comments


bottom of page